Downtown Los Angeles is die historiese stadskern en sentrale besigheidsdistrik (SBD) van Los Angeles, Kalifornië wat meer as 500 000 werkgeleenthede vir pendelaars bied, maar ook 'n verskeidenheid residensiële buurte behels wat 'n groeiende bevolking van sowat 65 000 huisves. Dit maak deel uit van Central Los Angeles, een van die streke waarin die administratiewe distrik Los Angeles County onderverdeel word.
Die stadskern het sy oorsprong in die Spaanse koloniale nedersetting wat hier in 1781 gevestig is en in die volgende twee eeue verskillende ontwikkelingsfases deurloop het. Nog in die vroeë 20ste eeu het banke, afdelingswinkels en rolprentteaters groot getalle inwoners van Los Angeles en besoekers na die gebied gelok. Demografiese veranderings en die gepaardgaande hervestiging van stadsbewoners in uitgestrekte voorstede het die ekonomiese agteruitgang van die middestad tot gevolg gehad - 'n proses wat baie dekades lank voortgeduur het voordat Downtown Los Angeles in die eerste dekade van die 21ste eeu 'n merkwaardige herlewing ervaar het. Tussen 1999 en 2015 is sowat $24 miljard in nuwe bouprojekte belê, waaronder kantoorgeboue en luukse woonsteltorings.[1] Volgens die webtuiste Los Angeles Downtown News was daar in Maart 2018 altesaam 109 projekte in aanbou of in die beplanningsfase.[2]
Terwyl nuwe wolkekrabbers ontstaan het, is bestaande historiese geboue gerenoveer vir nuwe gebruike en het kulturele projekte nuwe lewe in die middestad ingeblaas. Vandag is Downtown die spilpunt vir Metro, Los Angeles se moderne openbare vervoerstelsel.